Vrugteprodusente van Grabouw en Elgin gaan tussen 7,5 en 10 miljoen kubieke meter water aan die Kaapstadse metro skenk in die lig van die huidige waterkrisis.
Boere wat aan die Groenland Watergebruikersvereniging (GWUA), ’n privaat waternetwerk, behoort, het ná samesprekings besluit om die eenmalige skenking te maak. Die water kom uit privaatdamme in die gebied.

Johan Groenewald, uitvoerende hoof van die GWUA, sê produsente van Grabouw en Elgin het genoeg water vir die huidige seisoen. “Produsente het self op die goeie daad besluit. Ons val in ’n ander opvangsgebied en hoewel ons reënval ook die afgelope drie jaar veel laer as normaal was, het boere in die omgewing besef dat ons tans in ’n gunstiger posisie as Kaapstad is.”

Ross Heyns, voorsitter van die EGVV (Elgin, Grabouw, Vyeboom, Villiersdorp) Landbouvereniging, sê die skenking sal boere aan die einde van die huidige seisoen in ’n moeilike posisie plaas. “Ons gaan afhanklik wees van goeie winterreënval om reserwes weer aan te vul vir die volgende seisoen.”

Volgens Groenewald het produsente in die streek vroeg reeds begin beplan en saam nuwe besproeiingstegnieke ondersoek. “Produsente pas byvoorbeeld beter skedulering toe en maak seker dat alle plaastoerusting gereeld nagegaan word en dat daar geen lekkasies is nie. Ons lig ook gereeld alle waterverbruikers in oor die waterskaarste. Daar is ’n duidelike kopskuif onder waterverbruikers en almal besef water is ’n skaars natuurlike hulpbron.”

Produsente in die Elgin en Grabouw-streek het oor etlike jare heen verskeie damme met privaatgeld gebou om die sagtevrugtebedryf in dié streek te ontwikkel. Die water word op ’n volhoubare en verantwoordelike manier bestuur. Die GWUA voorsien nie water aan die Vyeboom en Villiersdorp-omgewing nie, omdat dié boere water uit die Theewaterskloofdam kry. Die twee waterskemas is nie met mekaar verbind nie. – Persverklaring

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY