Van links is Tommie de Lange, direkteur van Obaro-handel, Willie Jacobs, direkteur van Obaro-finansiële dienste, Eben Pienaar, voorsitter van die Obaro-groep, Nic Bronkhorst, besturende direkteur van die Obaro-groep, Francois du Rand, direkteur van Obaro korporatiewe dienste en Thys Knoetze, finansiële direkteur van die Obaro-groep.

Die bedryfsdireksie van Obaro het op die groep se algemene jaarvergadering goeie nuus met boere en aandeelhouers van die SA Besproeiingskorporasie (SABK) gedeel. SABK is die meerderheidsaandeelhouer in die Obaro-groep.

Obaro spog die afgelope finansiële jaar met rekordwinste, met die Obaro/SABK-lojaliteitstelsel wat in 2017 ’n totaal van R5,8 miljoen se Druppels aan SABK-aandeelhouers uitgereik het. Druppels word met aankope by Obaro verdien en word aan die einde van die finansiële jaar in SABK-aandele omgeskakel.

Die SABK-aandeelhouersbasis het die afgelope drie jaar van 328 in 2014 tot 1 782 in 2017 gegroei. Obaro het verder volgehou om ’n wesenlike komponent van wins ná belasting aan sy aandeelhouers in die vorm van dividende uit te keer en die hoogste dividend in Obaro se geskiedenis is verklaar, terwyl die netto-batewaarde per aandeel in die 2017 finansiële jaar met ’n stewige 17,7% toegeneem het.

Die rekord netto wins wat Obaro behaal het, kan toegeskryf word aan die maatskappy se voortdurende uitbreiding van sy bedieningsgebied en produkreekse. Met die loods van Obaro Aanlyn en Infogro Internet Diensteverskaffing, is die groep se kliëntebasis na die hele Suid-Afrika uitgebrei.

Hoogtepunte sluit onder meer die opening van Obaro se 26ste handelswinkel in Hartbeespoort, ’n nuwe winkel in Naboomspruit en die tweede Claas-meganisasie-afdeling in Middelburg in. Obaro landbou-adviesdienste is ook in hierdie tyd wesenlik uitgebrei en sluit die ontwerp van besproeiing, satelliet-moniteringsdienste, landbou-ontwikkelingsdienste en landboukundige en veekundige adviesdienste in.

Die raad van Obaro-besigheidsbeleggings het daarbenewens in 2017 twee onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, Frans Odendaal, ’n senior advokaat en oud-waarnemende regter en Gert Kapp, voormalige direkteur by PwC, verwelkom. Hierdie aanstellings is ter ondersteuning van Obaro se voortgesette verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur. –  Persverklaring

 

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY